‘n Nuwe graangenerasie onder die loep geneem
Mensgesentreerde leierskap in die graanbedryf was die fokus van GOSA se 41ste simposium vanjaar. In pas met die oorhoofse tema, “ʼn Nuwe graangenerasie in wording”, het topsprekers deelgeneem aan die gesprek oor die noodsaaklike vereiste van personeel wat bemagtig en doeltreffend is om die plaaslike graanbedryf die toekoms in te neem.
“GOSA se waarde as ʼn toonaangewende platform wat rolspelers van regoor die graanwaardeketting byeen bring vir kennisdeling, netwerkbou en gesprekke oor die toekoms van die bedryf is weer eens bevestig,” het Johan van Rensburg, president van GOSA, na afloop van die simposium op 24 en 25 Maart in Mosselbaai gesê.
Dag 1 gerig op mensebestuur
Die inspirasiespreker en outeur, Jannie Putter, het stilgestaan by hoe ʼn mens kan werk teen slagofferskap in die uitdagings waarmee ons in die daaglikse lewe gekonfronteer word. Pak uitdagings anders aan, verskuif jou fokus van realiteit na geloof, verander jou taal en verander jou etiket deur negatief in positief te verander. “Wees bewus van die realiteite in jou lewe en wat vasgevang is agter die realiteite,” het hy gesê.
Lizelle Jacobs, ʼn lewens- en besigheidsafrigter, het die vraagstuk of integriteit en lojaliteit in die werksplek ʼn feit of fiksie is, toegelig. Sy sê bestuurders moet nie personeel se blinde gehoorsaamheid, dikwels uit vrees, met lojaliteit verwar nie, maar eerder intensioneel vir veral jonger mense ʼn doel in die werksplek te skep. “Jou mense glo nie in wat jy doen nie, maar waarom jy dit doen,” het sy gesê met verwysing na wenke om hoër vlakke van werknemerbetrokkenheid te bereik.
VKB se uitvoerende hoof van Mensekapitaal, Francois Sieberhagen, het simposiumgangers uitgedaag om nuut te dink oor leierskap. ‘n Nuwe era van leierskap in die graanbedryf impliseer nie eksklusief die jonger generasie wat oorneem nie. Bly relevant in die bedryf deur nuwe tegnologie soos kunsmatige intelligensie te omhels, maar veral deur mensgesentreerde leierskap te demonstreer. “Beweeg van ʼn bestuurder na ʼn inspirerende leier en dan ʼn afrigter (coach) wat sy span ontwikkel om hulle volle potensiaal te bereik,” was sy raad.
‘n Paneelbespreking met lojaliteit as tema is deur Lizelle Jacobs gelei. Volgens Francois Sieberhagen (VKB) vind leiers tyd vir een tot een-gesprekke met spanlede wanneer die maatskappykultuur aanpas om dit te prioritiseer. “Werk ook aan diep verhoudinge met die produsente wat jy bedien,” het hy gesê. Jerry Maritz (voorsitter van Agbiz Grain) sê silospanne word vertrou met miljoene rande. Reëls en regulasies is onafwendbaar en die uitdaging bly om ʼn balans met bemagtiging van die spanlede te vind. Dr Sierk Ybema het gesê nuwe tegnologie hoef nie ʼn bedreiging te wees nie – hoe meer jy van jou graan weet, hoe beter. “Selfs kunsmatige intelligensie het mense nodig om dit te bedryf. Sintuiglike waarnemings op silovlak sal altyd belangrik wees.”
Dag 2 fokus op tegnologie en die waardeketting
Pieter Geldenhuys, tegnologiestrateeg van die Instituut vir Tegnologiestrategie en Innovasie, het Dag 2 afgeskop met ‘n insiggewende aanbieding oor digitale transformasie as deel van die nuwe oes in die graanwaardeketting. Hy het die vrees vir die gebruik van kunsmatige intelligensie (KI) aangespreek: “Die vermoë wat jy deur die gebruik van KI verkry om produktiwiteit te verhoog en ekstra beskikbare tyd te bekom, is enorm.” Sy aanbieding is afgesluit met ʼn demonstrasie van KI-geskepte model vir die optimisering van die graanwaardeketting.
Landboumarkte het wêreldwyd meer blootgestel geraak aan klimaatgedrewe volatiliteit. Dr Mariëtte Geyser (Ekonomiese en Bestuurswetenskappe van die Noordwes-Universiteit) het gekyk na die invloed van die klimaat op graanprysvlakke. Slim futures spruit nie uit die vermyding van risiko nie, maar die beter prysbepaling van risiko, die beter interpretasie van tydsberekening en die vinniger deel van kennis.
Dr Tobias Doyer, HUB van Graan SA, het in sy aanbieding die kollig laat val op die volgende dekade van graan in Suid-Afrika met ‘n fokus op beleid, mense en produktiwiteit. Met ʼn verwagte populasie van 75 miljoen teen 2040, sal Suid-Afrika sowat 24 miljoen ton mielies per jaar benodig. Deur strategies in navorsing te belê en wetenskapsgebaseerde beleidsbesluitneming moontlik te maak, kan Suid-Afrika ‘n veerkragtige, innoverende en wêreldwyd mededingende graanbedryf verseker. Suid-Afrikaanse produsente moet effektief genoeg wees om met hulle produkte op internasionale markte mee te ding of deur hulle produkte deur diereproteïene te voer. Hy het verwys na hoe effektiwiteit verhoog kan word; wat nodig is om dit te doen en die toestemming en tegnologieë waarin belê moet word.
ʼn Paneelbespreking oor hoe mededingendheid in die graanwaardeketting gehandhaaf kan word – en die regulatoriese omgewing se invloed daarop – is gelei deur dr Tobias Doyer. Anina Hunter (voorsitter van AFMA), het inligting verskaf oor die veevoerbedryf – een van die grootste verbruikers van graan – se doeltreffende hantering van biosekuriteit en die positiewe bydrae van selfregulering. Wat logistiek betref, het Tom Terblanche (Grain Carriers) genoem dat kostebestuur en koste-effektiwiteit groot uitdagings meebring. “Die oneffektiwiteit van die land se spoorvervoer asook die agteruitgang van pad- en hawe-infrastruktuur is beperkend vir internasionale handel,” het hy bygevoeg. Volgens Johan van Rensburg (VKB) kan graan weer aantreklik gemaak word, as rolspelers in die bedryf kies om hulle kennis toe te pas en om aan te hou leer.
Die politieke analis, dr Theuns Eloff, het in sy oorsig oor die politiek en die pad vorentoe gesê die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) is tans nog staande, maar dat vanjaar se plaaslike verkiesing dit gaan beproef. Hy reken dat kleiner politieke partye verder steun gaan wen, wat ʼn impak op die uitkoms van die nasionale verkiesing in 2029 kan hê. Daar is wel groen lote sigbaar in die politiek en die ekonomie. Hy reken al lyk sake in die land in die kort termyn problematies – veral weens die oorlog in die Midde Ooste – lyk dit matig positief vir die medium termyn en baie positief in die lang termyn.
Aan die stuur van GOSA
Altesaam vier raadslede se termyne het vanjaar geëindig. Marco Pretorius (AFGRI) was nie weer verkiesbaar nie. Benewens nominasies ontvang vir Johan van Rensburg (VKB), Dries Dannhauser (Tiger Brands) en Rinus Bezuidenhout (Bester), is ʼn gekoöpteerde lid van die Raad, Thys Visagie (NWK), as raadslid in die vakante pos aangewys. Tydens ‘n raadsvergadering ná die algemene jaarvergadering is Johan van Rensburg as president en Dries Dannhauser as tesourier herkies.
GOSA bedank graag vir AGI as hoofborg van die simposium asook elkeen van die ander borge wat die geleentheid moontlik gemaak het. Volgende jaar se simposium sal plaasvind op 17 en 18 Maart by die Diaz Strand Hotel in Mosselbaai.

Johan van Rensburg van VKB is op 24 Maart vanjaar herkies as president van GOSA.

GOSA se Raad vir 2026/2027 is (voor): Althea Emslie (gekoöpteer; Perdigon), Ferdinand Meyer (vise-president; Ronin), Johan van Rensburg (president; VKB) en Dries Dannhauser (tesourier; Tiger Brands). Agter: Japie Snyman (gekoöpteer; Olam Agri), Thys Visagie (NWK), Stefan van Staden (AFGRI Milling), Willem Strauss (RMB),
Rinus Bezuidenhout
