December 6, 2023

Kersboodskap

Dié tyd van die jaar is besonders…

Elke jaar wanneer ons die Kersgety betree, besef ek dat die tyd vir niemand wag nie. Soms is die nuwe jaar op jou voordat jy die gewoonte van die ou jaar se datum in jou gedagtes verander het. Dan is ek dankbaar dat ek in lewenskrag en gesondheid kan terugkyk op ‘n jaar waarin daar soveel dinge oor my pad gekom en ek weer besef dat alles in ons lewens net genade van Bo is om alles te kon hanteer.

In hierdie lewe maak dit nie saak waar ons leef en werk nie – ons is elkeen op ons gebied ‘n leier. Dit wat jy toelaat om in jou binneste te groei, sal jy antwoord en op reageer as tyd jou druk en eise jou knel. Dit gebeur maklik dat ons die groei van negatiewe gedagtes in ons harte toelaat en dit dan die gang van ons woorde en dade beïnvloed. Dit is waarom hierdie tyd van die jaar so besonders is. Dit dwing jou om tyd te neem om te besin. Vraag is: het ek tyd gemaak vir geluk binne my lewe, of was daar net tyd vir die eise van elke dag?

Ek kan met sekerheid sê dat die lede van GOSA met wie ek vanjaar die voorreg gehad het om kontak mee te kon hê, goeie tydsbesteding gehad het in wat GOSA van hulle ervaar het. Ondanks vol programme en min tyd, was elkeen van die raadslede die sprekende voorbeeld van mense wat tyd maak vir dinge van waarde.

Soos vroeër gesê, wag tyd en gety vir niemand nie en die GOSA-raad is agter die skerms besig om die Simposium vir 2024 te beplan. Dit word op 18 en 19 Maart in die hartjie van die Wynlande, naamlik Stellenbosch, aangebied met die tema, “Stabiliteit in vooruitgang”. Daar sal afgevaardigdes die geleentheid kry om hul uitkyk op voortgesette stabiliteit in ‘n veranderende graanwaardeketting te verdiep. Ons hoop om julle almal in Stellenbosch te sien.

Van my en al GOSA se raadslede wens ons al ons lede en vriende van die organisasie ‘n vreugdevolle Kersgety toe. Mag u die vrede en liefde van Jesus ervaar, mag u seën ontvang vir die nuwe jaar en mag ons almal in die volgende jaar daardie sukses smaak waarvoor ons almal wens.

Hein Rehr
President