BLOG
Na my mening
Nuwe webwerf so bedrywig soos die huidige reuse-seisoen
Welkom by GOSA se webblad wat nou aktief bedryf word. Groot dank gaan aan Johan Smit van Infoworks asook Marco Pretorius en Karin Greeff van die GOSA Raad vir die harde werk om ons splinternuwe webblad (besoek ons gerus by www.grainorgsa.co.za) op die been te kry.
Nadat ons verlede jaar ‘n ernstige droogte ondervind het, is Suid-Afrika geseënd met die grootste mielieoes wat in die geskiedenis geproduseer is. Na aanleiding van die nuutste oesskatting word 16,413 miljoen ton mielies verwag gedurende die 2017 oesjaar. Die geskatte oppervlakte onder mielies is 2,629 miljoen hektaar, terwyl die verwagte opbrengs 6,24 ton per hektaar is. Dit is die hoogste opbrengs ooit. Die Vrystaat, Mpumalanga en Noordwes Provinsies gaan na verwagting 83% van die massiewe oes produseer.
Na raming is ongeveer 13 miljoen ton mielies reeds in die hanteringsproses, wat insluit:
- Mielies in die silo’s
- Mielies direk gelewer
- Uitvoere na naburige gebiede; en
- Diepsee uitvoere
In hierdie stadium wil ons al ons lede baie bedank vir hulle harde werk en deursettingsvermoë gedurende die oestyd. Silo’s was vol en planne moes gemaak word om die inname van die mielies te hanteer.
Tesame met die groot mielieoes moet ons lede ook die volgende grane hierdie seisoen hanteer:
Sonneblomsaad
870 000 metrieke ton
Sojabone
1,3 miljoen metrieke ton
Grondbone
90 000 metrieke ton
Graansorghum
151 000 metrieke ton
Gars
265 000 metrieke ton
Koring
1,6 miljoen metrieke ton
Kanola
109 000 metrieke ton
In totaal sal ons lede oor die 20 miljoen ton graan hanteer plus die tekort aan oliekoek wat van Suid-Amerika af ingevoer word.
Uitvoere van mielies verloop vlot, maar die syfers van mielies wat uitgevoer is, is minder as wat aanvanklik verwag was. ‘n Paar vragte geelmielies is uitgevoer na Japan aangesien hulle Suid- Afrikaanse mielies verkies vir die hardheid en voggehalte en GMO-vrye status. Witmielies is uitgevoer Kenia toe. Suid-Afrikaanse mielies wat per see uitgevoer word, se pryse kompeteer met mielies vanuit Amerika en Suid-Amerika.
Die droogte in die Wes-Kaap is voortslepend, maar volgens die weervoorspelling is daar tog ‘n moontlikheid vir verdere reën gedurende hierdie maand. Vooruitsigte vir die somerreëngebiede is gunstig vanaf die middel van Oktober 2017.
Die GOSA Raadslede wens julle almal ‘n voorspoedige seisoen toe en dit is ons wens dat al ons lede die nuwe webwerf aktief sal gebruik. GOSA-lede wat ‘n artikel of foto’s wil aanbied vir plasing op die webtuiste, is welkom om vir Karin Greeff te kontak by karin@grainorgsa.co.za
Groete
Annatjie Loio
President
