July 28, 2023

GOSA Kaap Werkswinkel 2023

Nougesette higiëne tydens opberging kan bedryf miljoene spaar

“Insekte kos die graanbedryf jaarliks miljoene rand. Tog wil dit voorkom asof opbergingspersoneel die teenwoordigheid van insekte in die opbergingsplek as ‘n gegewe en nie as ‘n probleem beskou nie,” het Hendrik van Aswegen, algemene bestuurder by die Graanopleidingsinstituut (GTI), tydens die pas afgelope GOSA Kaap-werkswinkel op 19 Julie by D’Aria in Kaapstad, gesê.

“Die wanpersepsie bestaan ook dat indien ‘n koper wel ‘n trok sou afkeur, kan die trok vinnig berook word. Daar bestaan egter geen geregistreerde metode om die trok volgens wetlike vereistes te berook nie.”

HIGIËNE
Van Aswegen het voorts daarop gewys dat die probleem met insekte egter bekamp kan word deur die nougesette, higiëniese maatreëls toe te pas. Hierdie is ‘n verantwoordelikheid van silobestuur en kan nie aan onkundige personeel oorgelaat word nie. Die higiëniese maatreëls sluit onder andere die volgende in:

  • Alle moontlike skuil- en broeiplekke van insekte moet opgespoor en uit die weg geruim word.
  • Behoorlike beplanning moet gedoen word, sodat elke produk en artikel ʼn regmatige plek het om die skoonmaak, inspeksie, bespuiting en beroking daarvan te vergemaklik.
  • Sien toe dat slegs droë graan, oliesade en hul produkte opgeberg word.
  • Waterlekkasies in geboue en silobuise moet tot elke prys uitgeskakel word.
  • ʼn Gevaarlike bron van besmetting is graan- en oliesade wat ontvang word nadat die perseel ontsmet is. Vir hierdie besmette graan- en oliesade moet ʼn klein berokingstenk of -seil beskikbaar wees vir onmiddellike beroking.
  • Knaagdiere skep gunstige toestande vir die ontwikkeling van insekte en kan bestry word deur houers met giftige water in donker hoekies te plaas.

BEROKING
“Die vraag word dikwels gevra waarom beroking of bespuiting nie werk nie? Die redes lê egter dikwels by onsself, veranderlike omstandighede en onkundige personeel. Meeste van ons silo’s is meer as 30 jaar oud wat daar toe gelei het dat hulle nie meer dig is nie. Daar sal egter indringend hier aan aandag geskenk moet word,” sê Van Aswegen.

Ander faktore wat ook in ag geneem moet word, is die volgende:

  • ‘n Voorgeskrewe lugspoedtoetsing van ‘n berokingstelsel wat moet plaasvind voordat daar berook kan word.
  • Gasvrystelling moet onder normale omstandighede binne 48 uur by ‘n temperatuur van 25°C en ‘n relatiewe humiditeit van 75% plaasvind.
  • Ammoniak in die berokingsformule het ‘n invloed het op die kwaliteit van die berokingsproduk. Die dosis moet behoorlik beheer word om probleme soos byvoorbeeld ‘n brand te voorkom.
  • Volgens die etiketinligting word die gebruik van fosfien nie aanbeveel as die temperatuur onder 15°C is nie.

PILTOEDIENER
‘n Ander aspek wat ook uitgewys is wat tot die onsuksesvolle beroking van graan lei, is die foutiewe gebruik van die piltoediener. Dit behels onder andere die volgende:

  • Die piltoediener is nie gekalibreer volgens die huidige graanvloeitempo nie.
  • Die toedieningsplaat word nie geruil as ander grane berook word nie.
  • Die buise is nie gasdig nie en ‘n standaarddosis/ton word steeds gebruik.
  • Die buise word nie binne 120 uur gevul nie.
  • Die buise word nie na-ure of naweke geseël nie.
  • Die temperatuur is moontlik te laag.
  • Die vrystelling van gasse tydens ontbinding van plant materiaal in die graan, kan fosfien- gas vrystelling verhoed.
  • Buise word nie vir die verlangde blootstellingstyd gelaat nie.
  • ‘n Piltoediener is foutief of leeg.
  • Slegs die graan word berook en nie die buis se volume nie.
  • As gevolg van die bandbeweging word pille oneweredig in die graan versprei en vind oneweredige gasvrystelling in die buis plaas.
  • Nuwe graan word op ou graan berook.

PRODUKKENNIS
Volgens Van Aswegen verg suksesvolle beroking ook kennis van die produk wat vir die beroking aangewend word. Die volgende aspekte is belangrik:

  • Daar moet kennis geneem word van hoe lank dit vir ‘n produk neem om al sy gas vry te stel onder normale omstandighede van 25°C en 75% relatiewe humiditeit (RH). Hou in gedagte dat die buitetemperatuur nie altyd die temperatuur van die graan weerspieël nie.
  • Die halflewe van fosfien is belangrik vir beroking omdat dit die tempo van die afbreking van die gas se effektiwiteit beïnvloed.
  • Die voginhoud speel ook ‘n rol in die vrystelling van gas. Ongeveer 3 gram vog word benodig om 1 gram gas te produseer.
  • Ammoniak in die formule kan die effek van die beroking beïnvloed. Die gebruik van fosfien word nie aanbeveel by temperature onder 15°C nie, omdat dit gasvrystelling vertraag en die effektiwiteit verminder.
  • Fosfien werk nie onder temperature van 4°C nie en dit is belangrik om stringe of fosfienkomberse te gebruik om die gas te verseël en die vakuum in die buis te bevorder.

BESPUITING
“As gevolg van herhaaldelike infestasie en die bewering dat insekte weerstandig is teen fosfien, het verskeie opbergingsagente besluit om graan eerder weer by inname te bespuit. Die probleem is dat daar plaaslik sowel as internasionaal weerstand deur verbruikers teen die bespuitingsstowwe ontwikkel het.

“Nuwe produkte vir beroking en bespuiting is wel beskikbaar maar is nog nie onder die Suid-Afrikaanse omstandighede getoets nie. Daar sal egter dringend hieraan aandag gegee moet word. Die grondslag vir die doeltreffende bestryding van insekte in opgebergde produkte bly egter goeie skuurhigiëne,” aldus Van Aswegen.

NAVRAE KAN GERIG WORD AAN HENDRIK VAN ASWEGEN, ALGEMENE BESTUURDER, GTI.
E-POS: hendrik@gtinstitute.co.za. Kantoor : +27 [0] 71 312 7413 Sel : +27 [0] 83 227 8161

Artikel en foto’s deur Marietta Cronje

Hendrik van Aswegen, algemene bestuurder by die Graanopleidingsinstituut (GTI), het sy kundigheid oor die beroking van graan om insekte te bestry, tydens die GOSA Kaap-werkswinkel gedeel.


Hein Rehr, GOSA-president, het lede en ander rolspelers by GOSA Kaap se werkswinkel op 19 Julie verwelkom.


GOSA Kaap bedank graag die borge van dié suksesvolle berokingswerkswinkel by D’Aria in Kaapstad. Voor: Dries van Jaarsveld (Bester Feed and Grain), Dieter le Roux, (Perdigon), Louis Anderson (Bühler Group) en Birtus Mostert (Coopers). Agter: Ferdi Meyer (Ronin), Hein Rehr (RehrCo.), Michal Rehr (GOSA Kaap Voorsitter), Arnold Fortman (National Fumigants), Danie Greeff (AFGRI), Jurie Claassens (AES) en Emden Vosser.


Die pas afgelope GOSA-werkswinkel vir GOSA-Wes-Kaap het goeie ondersteuning geniet danksy die aktuele onderwerp van beroking in die graanbedryf. Eben Arendse, PR Jacobs, Danie Greeff en Jurie Claassens was ook daar.


Emden Vosser, Jaco Joubert, Heinrich Swartz, Tol Jagers en Stefan Faro is deel van die Overberg Agri-span wat die werkswinkel bygewoon het.


Michal Rehr (links), wat tydens GOSA Kaap se algemene jaarvergadering as voorsitter aangewys is, by die aanbieder, Hendrik van Aswegen, en GOSA se president, Hein Rehr.