Sterkte met die oestyd wat voorlê
Ek vind dit ongelooflik hoe vinnig ‘n jaar deesdae kan verbygaan. Dit is wat hierdie tyd van die jaar vir my so besonders maak …. die tyd wat die Overberg op sy mooiste is, met die geel en groen landerye wat om ons lê sover die oog kan sien. Dit is dan wanneer ek altyd stil raak en dink aan alles wat om my gebeur en hoe bevoorreg ek is om in hierdie omgewing én tyd te kan leef.
Vir dié wat dit nog nie gesien het nie, kan ek aanraai om dit op jou emmerskoplys te sit.

GOSA en GOSA Kaap het ook ‘n baie geseënde jaar tot nou beleef. Ons het ‘n ongelooflike lekker tyd op Mosselbaai gehad, waar ons mekaar tydens die simposium weer in die oë kon kyk in plaas van om oor ‘n rekenaar te kommunikeer. GOSA Kaap het ook in Julie ‘n fisiese werkswinkel op Worcester aangebied, wat goed bygewoon was.
Dit weerspieël ook die algemene gevoel wat ons kry waar ook al ons gaan. Enige geleentheid om bymekaar te kom, word met groot entoesiasme aangegryp. Mense is uitgehonger na samesyn en ons sien dit by alle samekomste.
Die winteroes lê voor die deur en ons sien uit na ‘n meer normale oes as die vorige paar jaar. In die Overberg lyk die graan mooi en die potensiaal lyk goed. Daar is dele soos jy meer oos gaan na Mosselbaai waar daar plekke is wat swaarkry, maar na die weste en suide is die oeste vol belofte.
Hier by ons noem ons September die “judge”, want dit gaan alles maar oor hoe die weer in dié maand gaan uitspeel. Die Suid-Kaap kort nog reën in die meeste van die streke, maar dit moet ook nie te gou te warm word nie.
In die Swartland, waar dit later begin reën het, gaan dit bietjie moeiliker. Die graan daar het tog maar in sekere areas seergekry. Hulle het wel die afgelope paar weke goeie reën ontvang wat darem verligting vir van die gewasse gebring het. Die verwagting is dat hulle nie vanjaar ‘n gemiddelde oes gaan lewer nie. September is ‘n baie belangrike maand vir dié gebied.
Sterkte aan almal wat voor oestyd staan. Ons glo en hou moed dat hierdie ‘n geseënde een vir elkeen sal wees.
Ek sien gereeld nuwe aansoeke vir GOSA-lidmaatskap, wat ook ‘n bewys is dat ons nog waarde toevoeg tot die bedryf. Dit is een van ons strewes om waarde te kan toevoeg.
Groete uit ‘n prentjiemooi Caledon
George du Plessis
VOORSITTER GOSA-KAAP
Selfoon: 082 924 8755
E-pos: gduplessis@overbergagri.co.za
