GOSA GHOLFDAG SLAAN AF OP HOË NOOT
Die gewilde Copperleaf Golfbaan in Centurion was die tuiste van die heel eerste GOSA-gholfdag wat op 1 September vanjaar aangebied is. Gekenmerk deur perfekte sonskynweer, inskrywings deur 27 vierbalspanne én flinke borge het die dag bevredigend afgeloop.
Weens die COVID-19-pandemie kon GOSA vir twee agtereenvolgende jare nie hulle jaarlikse simposium aanbied nie. Die gholfdag is enersyds aangepak om te verseker dat GOSA kan voortgaan om waarde te bied aan sy lede en aan die graanbedryf in die breë.
“As GOSA beywer ons ons deurlopend om ‘n effektiewe netwerkplatform vir die graanwaardeketting te skep. Bo en behalwe die jaarlikse simposium in Maart, waarvoor GOSA bekend is, word tegnies-gefokusde werkswinkels deur die jaar aangebied. Dié eerste gholfdag was wel ‘n proeflopie, maar gemeet aan die aftrek wat dit gekry het, gaan dit ‘n jaarlikse instelling in die graanwaardeketting word,” het Hein Rehr, president van GOSA, gesê.
Hy het ook die borge en uitstallers vir hul deelname aan die dag bedank. Die borge was soos volg:

Die gholfdag het twee opwindende kolskoot-pryse op die spel gehad. ‘n Splinternuwe Case Farmall M Active Drive 4-trekker met ‘n waarde van meer as R900 000 (geborg deur VKB) asook R100 000-kontantprys (geborg deur die Bearing Man Group). Volgens die borge was daar spelers wat naby aan ‘n hole-in-one gekom het, maar uiteindelik het niemand met ‘n trekker of ‘n gawe kontantprys huis toe gegaan nie.
Voor die graanmanne kon dink die opwinding van die dag is verby, breek die geselligheid in die klubhuis toe aan. Toe die gewilde Andries Vermeulen agter die mikrofoon inskuif as seremoniemeester en afslaer, het dinge na ‘n heelwat vinniger rat oorgeskakel. GOSA bedank ook elke speler wat aan die veiling ten bate van GOSA deelgeneem het.
Uitslae
Die topvyf-spanne van die dag, was:
- AFGRI
- Comdi Agricultural Markets
- Mosselbaai
- Ronan
- Bessemer

Dié span van AFGRI is as voorlopers van die dag gekroon. Van links: Stefan van Staden, Jannie van der Watt, Willem Peyper en Hardus Dupper.

Hardus Dupper (AFGRI) het naaste aan die pen op die 5de gat geëindig. By hom is Andries Vermeulen (seremoniemeester) en Marco Pretorius (Tesourier van GOSA).

Ridwaan Khan (middel) – wat vir die Gigno-span gespeel het – was naaste aan die pen op die 17de gat.

Die wenner van die langste dryf op die 8ste gat was Gavin Hefer (middel) van die Bureau Veritas-span.

Ernie Crafford (Farmwise-span) se dryfhoue was kookwater op die dag. Hy stap weg as wenner van die langste dryf op die 18de gat.

Dié span wat deur Unigrain ingeskryf is, het hulle nie onnodig laat aanjaag nie en as dapper wenners van die langste dag uit die stryd getree. Van links: Theo Scholtz, Wimpie Bouwer, Martin van Zyl en Fritz Barnard.
