December 1, 2021

GOSA gee erkenning aan die bedryf vir toewyding

Ons trek aan die begin van Desember 2021. Opwindend! In die onlangse verlede het ons die “geboorte” gesien van ‘n nuwe Covid-variant genaamd Omikron. ‘n Mens kan net hoop dat ons uit ondervinding geleer het; dat hierdie Desember meer “normaal” sal wees en dat ons ons vryhede sal kan geniet – én ‘n bietjie kan rus.

Almal van ons het maar asem opgehou toe die staatspresident weer sy “huisvergadering” gehou het en menigte van ons al gesien het hoe ons Desember weer by die huis gaan moet bly. Gelukkig lyk dit of ons nie weer hierdie seisoen net vir die see hoef te sit en staar nie, maar ook in hom kan baljaar.

Soos julle weet, kon GOSA nie die afgelope twee jaar kongresse aanbied nie, maar ons het virtuele werkswinkels gehou – wat baie goed ontvang en bygewoon is. Die beplanning van ons 37ste simposium is flink aan die gang. Teken gerus 17 en 18 Maart 2022 (wanneer dit in Mosselbaai sal plaasvind) aan. Te oordeel na ons president se jongste toespraak, behoort ons mekaar Maartmaand te sien.

Die graanbedryf was regdeur die jaar toegewyd om ‘n reuse-oes te hanteer. Dit het wel gelei tot nuwe besigheid en inisiatiewe, maar in uitdagende omstandighede. GOSA gee erkenning aan die bedryf hiervoor en is baie trots om te sê dat die meeste van hierdie rolspelers lede van die organisasie is. Dit is ook die tyd van die jaar om terug te kyk en dankbaar te wees – dankbaar dat jy veilig is in ’n pandemie, dankbaar vir voorsiening, dankbaar vir geleenthede om in besigheid en in verhoudings te kon groei.

Ek wil afsluit deur julle elkeen en jul gesinne ‘n geseënde Kersfees en voorspoedige nuwe jaar, gevul met geluk, sukses en gesondheid, toe te wens. Baie dankie aan al ons lede, borge en sommer net vriende van GOSA vir julle getroue ondersteuning. Ons sien mekaar in Mosselbaai.

Groetnis

Hein Rehr
GOSA President

Sel: 082 451 1569
E-pos: hein@natfum.co.za

Hein Rehr
PRESIDENT
Mobile: 082 451 1569
Email: hein@natfum.co.za