October 21, 2021

Klim in die saal, jou bedryf het jou nodig!

Kan julle glo 2021 lê bykans op sy rug … dit wys maar net dat as die GOSA-lede uitgedaag word met ‘n pandemie en sy verwante gevolge, hulle nie skroom om die bul by die horings te pak nie. Dis sekerlik hoekom die tyd so vlieg.

Dit lyk darem asof ons stadig maar seker die COVID-19-pandemie onder beheer kry. Ek reken daar is steeds ‘n risiko van nuwe variante, maar daar is nou ‘n duidelike swaai in die denkwyses van die meeste mense. Hoewel ons COVID-19 moontlik nie gaan uitwis nie, sal die samelewing moet leer om daarmee saam te leef soos ons met griep en ander ernstige siektes saamleef.

As GOSA-lede het ons ‘n verantwoordelikheid om ons bedryf en die nasie in hierdie tye op ‘n verantwoordelike wyse te dien. Produsente het duidelik die uitdaging aanvaar. Koringboere het alles ingesit en die Oesskattingskomitee verwag ‘n nasionale koringoes van bykans 2,1 miljoen ton waarvan die Wes-Kaap ‘n verwagte rekordbydrae van 1,134 miljoen ton sal maak. Hierdie oes word eersdaags gestroop en ek verstaan van die GOSA-lede in die graanhanteringsbedryf dat hulle gereed staan!

Hoewel die voornemens om te plant-syfers nog nie beskikbaar is nie, blyk dit dat ons somergraanboere beplan om ‘n rekord aantal hektare aan te plant (dit is verseker moontlik dat marginale hektare weer ingespan kan word). Mielies gaan baie gewild wees as gevolg van goeie pryse, maar hoë kunsmispryse gaan waarskynlik rekord hektare na sojabone toe laat skuif. Hoewel die aanloklikheid van sonneblomproduksie negatief geraak word deur siektes soos sclerotinia, kan uitsonderlike hoë pryse tog hektare na sonneblom toe te trek.

Weervoorspellings vir 2022 lyk baie belowend. Daar is ‘n goed-ontwikkelde La Nina weersisteem in plek en dit behoort soortgelyke reënval as laasjaar mee te bring. Huidige voorspellings toon dat hierdie sisteem ten minste tot in die herfs van 2022 in plek sal bly. Dit is baie goeie nuus vir ons somergraanboere.

Gegewe die oppervlak en weervoorspellings, blyk dit dat ons GOSA-lede gaan moet bontstaan om al die graan te hanteer en te verwerk. Opberging, verwerking en uitvoere gaan hul tol eis, maar ek is seker ons lede is oorgehaal en gereed vir hierdie uitdaging.

Staan vas, manne en dames, en hou julle oë gevestig op Hom wat ons krag en moed gee.

Dries Dannhauser
RAADSLID

Selfoon: 087 358 8184
E-pos: dries.dannhauser@vkb.co.za

Dries Dannhauser

Mobile: 087 358 8184
Email: dries.dannhauser@vkb.co.za