July 28, 2021

Hou die waardeketting funksioneel in tye soos dié

Groete aan al die GOSA-lede uit ‘n koue, nat Overberg. Ons is reeds in die middel van 2021. Die winter het nou regtig hier by ons begin en so ook in die res van die land.

Ons is geseën met lekker reën op die regte tyd – die damme loop oor en die Rûens staan geel van die kanola. Die jaar het wel sy uitdagings en op plekke het dit meer as 300 mm in een dag in die middel van die plantseisoen gereën. Produsente kon nie in die lande kom om klaar te plant nie. Baie lande – veral in die Riviersonderend-gebied – het erg verspoel en moes eers herstel word voor daar met plant voortgegaan kon word. Dit het veroorsaak dat baie van ons produsente nog tot diep in Junie geplant het.

Veral die Suid-Kaap se graan lyk besonder goed met rekordoeste in die vooruitsig op dié stadium. Aanplantings in die Heidelberg/Riversdal-omgewing lyk besonders mooi. Die Swartland het lekker reën gekry en ‘n goeie oesjaar word verwag.

Wat graanhantering betref, het ons in die Overberg en Suid-Kaap ‘n groot uitdaging wat op ons wag. Moutgars skep veral ‘n bekommernis. Aangesien AB InBev se uitlaai sedert die begin van laasjaar se grendeltyd erg belemmer is, is daar nog meer as 200 000 ton moutgars in ons silo’s wat teen einde September uitgelaai moet word.

Covid-19 het ook ‘n gereelde impak op veral spoorvervoer, waar plasing van lokomotiewe soms tot ’n week uitgestel word. Uitbreiding en nuwe aanbouings is ‘n groot uitdaging terwyl staal se beskikbaarheid en hoë prys kommer wek – en oneindig lank vat om hier uit te kom. Selfs silosakke en bunkers se beskikbaarheid en pryse het aansienlik in die laaste agt maande gestyg.

Dan is daar die menslike impak wat Covid-19 het op veral ons personeel. Mense was reeds moeg, bekommerd en negatief oor die toekoms en toe tref die afgelope tyd se onluste ons ook nog. Dit is in tye soos hierdie wat Suid-Afrikaners wys waarvan hulle gemaak is. In omstandighede soos dié, moet ons daarop fokus om die regte dinge op die regte tyd te doen.

GOSA moet ook hier sy deel doen, veral om te help waar die nood groot is, deur kanale beskikbaar te stel waar goeie kommunikasie tussen partye kan vloei om sodoende te sorg dat die waardeketting behoue en funksioneel bly. Sterkte aan elkeen van julle met julle onderskeie uitdagings. Mag 2021 steeds vir elkeen ‘n uitsonderlike jaar wees.

Groete uit ‘n koue Kaap!

George du Plessis
President: GOSA-Kaap

Selfoon: 082 924 8755
E-pos: gduplessis@overbergagri.co.za

George du Plessis
PRESIDENT: GOSA Cape
Mobile: 082 924 8755
Email: gduplessis@overbergagri.co.za