January 28, 2021

Aan alle vriende en lede in die graanbedryf…

Ons is sekerlik almal bly dat 2020, met al sy uitdagings, iets van die verlede is. Die landbougemeenskap het darem die reputasie dat ons altyd meer konsentreer op oplossings as op probleme – en dit het ons deur die jaar gedra. Dit is deur saamwerk en saamstaan dat ons ook van 2021 ‘n sukses sal maak.

GOSA is trots daarop dat die graanbedryf ‘n massiewe mielie-oes gelewer het in 2020…die tweede grootste ooit en die grootste koringoes in 18 jaar! Gars en kanola het ook rekord-oeste opgelewer. Ons loof ons landbouers en lede van GOSA vir hul geloof, harde werk en deursettingsvermoë gedurende hierdie uitdagende tye. Ons het net weer gewys dat ons gees veel groter is as daardie klein virussie!

Ten spyte van die pandemie, het graanuitvoere na Zimbabwe en Mosambiek voortgegaan en 636,000 ton wit mielies is hanteer. Taiwan en Viëtnam het saam 1,2 miljoen ton van ons geel mielies ontvang. Die GOSA-familie se bydrae tot hierdie prestasies is bo enige twyfel en ons is trots daarop dat ons, so op ons eie manier, help om globale voedseltekorte te verlig.

Soms is ‘n mens geneig om te dink dat geld en materiële besittings die sleutel tot geluk en blydskap is. Dit is natuurlik eenvoudig nie waar nie. Ons is betrokke by landbou omdat ons in die behoeftes van ander wil voorsien. Ons rykdom lê nie in ons besittings nie, maar in ons strewe om voedselsekerheid te vermag. Die wete dat ons ‘n onmisbare skakel in die samestelling van ons gemeenskap is, is die rede hoekom ons – ten spyte van omstandighede – jaar na jaar doen wat ons doen. Dít is ons rykdom, ons vrede. GOSA glo vas in hierdie beginsel.

Die uitdagings van COVID-19 is lank nie verby nie. Die nuwe variante en mutasies dra by tot die onseker omgewing waarin ons onsself bevind en het ‘n bepaalde invloed op ons beplanning van die Maart-simposium. Terwyl die huidige inperkings en verbod op groter samekomste swaar op ons gemoedere rus, het ons geen keuse as om verwikkelinge dop te hou en die regering se regulasies te gehoorsaam nie. Dit bly maar moeilik om onder sulke omstandighede beplanning te doen.

GOSA is ook bewus daarvan dat daar ‘n behoefte aan kennis en inligting by ons lede bestaan. Ons is reeds besig om alternatiewe te oorweeg. Die bestuur vergader teen die einde van Januarie om ons opsies te oorweeg. Ons beplan virtuele werkswinkels en inligting sal binnekort beskikbaar wees. Ons hoop en glo egter steeds dat ons gou weer as een groot familie sal kan saamkuier.

Ek wil nie, soos in die verlede, afsluit met net ‘n bedanking vir almal se getroue ondersteuning en vriendskap nie. Dis vir my belangrik om hierdie jaar ‘n hartswens by te voeg dat almal veilig en gesond sal bly en dat ons almal die gesondheidsvoorskrifte sal volg om sodoende die pandemie te oorwin. Mag 2021 ruim bydra tot elkeen se geluk en vrede terwyl ons hard werk om die wêreld van ons produkte te voorsien.

Hein Rehr
GOSA President

Sel: 082 451 1569
E-pos: hein@natfum.co.za

Hein Rehr
PRESIDENT
Mobile: 082 451 1569
Email: hein@natfum.co.za