June 2, 2020

Onseker tye sorg dikwels ook vir geleenthede

Ek sou vandag graag ‘n terugblik oor die GOSA Simposium wat in Maart 2020 sou plaasvind wou gee, maar Covid-19 en die paniek daar rondom het die land en soveel bedrywe tot stilstand gebring. Nooit het ons as Suid-Afrikaners kon dink die dag sal aanbreek dat ons mekaar deur maskers moet groet en nie mag bladskud nie, nie saam mag braai en oor sport, weer en politiek kan gesels nie – en nie ons ouers, kinders of ander geliefdes mag besoek nie.

Oor die afgelope 20 jaar alleen het ons al soveel beleef, wat – volgens kenners – die einde van die wêreld kon beteken het: Y2K, antraks en virusse soos SARS, E. coli, voëlgriep, Ebola en nou Covid-19, is maar enkele voorbeelde. Een ding is seker; onseker tye sorg dikwels ook vir geleenthede.

As ʼn organisasie wat die landbou dien, is GOSA saam met die meeste bedrywe in die sektor dankbaar dat voortgegaan kon word om voedsel op miljoene mense se tafels te plaas onder uitdagende tye. Tydens die grendelstaat het oestyd afgeskop met een van die grootste mielie-oeste nog. Dankie aan elke rolspeler wat uit hul pad gegaan het om dit onder baie moeilike omstandighede moontlik te maak.

Elke rolspeler moes anders dink en aanpassings maak om by wetgewing rondom Covid-19 aan te pas. Nuwe geleenthede asook nuwe denkrigtings, kan en gaan die graanbedryf vir altyd verander. Wat ons in die verlede as vanselfsprekend aanvaar het, behoort in die toekoms nuwe uitdagings te bring.

Voorspoed en vrede vir almal gedurende hierdie tyd.

Lukas Swarts
RAADSLID

Selfoon: 082 444 3227
E-pos: lukas@ensignship.com

Lukas Swarts

Mobile: 082 444 3227
Email: lukas@ensignship.com