November 20, 2018

GOSA gaan in 2019 koppe bymekaar sit aan die Weskus

Ons as GOSA gaan ons 36ste bestaansjaar binne met groot verwagtinge wat hopenlik sal realiseer. Geen van hierdie verwagtinge binne die graanbedryf sal egter tot uitvoering kan kom as ons nie binnekort mildelike reën van ons Hemelse Vader ontvang nie.

Sekere gebiede, veral in die Wes-Kaap, het wel goeie reëns ontvang en daarom is daar ‘n gemiddelde oes in sekere dele. Groot was die skok en realiteit toe die produsente agterkom watter invloed die wind op hul oeste gehad het – veral in die Swartland. Daar word in sekere dele van tot 40% windskade gepraat, wat ‘n baie groot invloed op die tonnemaat per hektaar het.

Die damvlakke in die Wes-Kaap staan tans op plus minus 70%. Daar is egter dele van die Karoo wat baie min tot geen reën gehad het nie, wat intussen gemaak het dat Agri Wes-Kaap aansoek gedoen het om dit tot rampgebied te verklaar.

In die noordelike saaigebiede van ons land het produsente begin plant, maar die reën is maar skraps en dringende reën is ook nou daar nodig.

Oor grondonteiening sonder vergoeding gaan ek myself nie uitlaat nie, maar dit bly die onderwerp van die dag.

Nuus uit die Raadsaal van GOSA is dat ons steeds besig is om onsself (GOSA) te posisioneer binne die graanwaardeketting om die organisasie se toekoms vir sy lede te verseker. GOSA se uitsluitlike doel is steeds om forums te skep vir alle belanghebbendes in die bedryf om kundigheid en inligting uit te ruil. Daarom gaan ons in 2019 Weskus toe om by Klub Mykonos koppe bymekaar te sit om so in ons doel te slaag. Vir dié van julle wat nog nie die datums aangeteken het nie, doen asseblief so by 19 en 20 Maart 2019.

Sprekers van hoogstaande gehalte soos Mosiuoa Lekota, prof Dirk Kotzé, Japie Grobler en dr Roelof Botha, om net ‘n paar te noem, gaan optree. Wicus van der Merwe en Pietman die Skot (Geldenhuys) beloof om die lagspiere te prikkel.

‘n Geseënde Feestyd word almal toegewens en baie dankie vir een en almal se betrokkenheid by GOSA.

Sien julle aan die Weskus!

Hein Rehr
RAADSLID

Hein Rehr
PRESIDENT
Mobile: 082 451 1569
Email: hein@natfum.co.za