September 25, 2018

Op pad in die regte rigting

Dit is wonderlik om julle uit ’n baie nat Wes-Kaap te groet. Ons het sedert die middel van Augustus in die Overberg en Suid-Kaap mildelike reën ontvang.

Dele van die Suid-Kaap gaan egter nog gebuk onder die stremming van die droogte. Ons hoop die jongste reën sal vir hulle verligting bring. Die Swartland lyk ook buitengewoon goed hierdie jaar ná bogemiddelde reën in die winter geval het.

Ons het die jaar begin met damvlakke wat op die laagste punt in jare was, en op die ou einde teen Augustus met vlakke van meer as 50% gesit.Ons is werklik geseënd en baie dankbaar vir die reën wat ons ontvang het.

Aan GOSA Kaap se kant was dit ’n wonderlike jaar. Ons het aan die begin van die jaar ’n baie suksesvolle simposium op Hartenbos gehou en in Junie ’n uitstekende werkswinkel – met oor die 60 mense wat dit bygewoon het. Die program was van ’n hoë gehalte en belangrike onderwerpe wat op ons bedryf gemik is, is bespreek, veral voedselveiligheid en “gesondheid en veiligheid”.

Nasionaal is GOSA besig om sy posisie in die graanwaardeketting te herevalueer, soos waar ons onsself in die toekoms sien en die oorweging van nuwe vennote ten einde relevant te bly. Bowenal probeer ons GOSA se toekoms vir sy lede verseker.

In tye soos hierdie moet ’n mens aanpas om in pas te bly en betrokke te wees. Ek glo ons beweeg in die regte rigting. Soos die tyd aanstap, moet ons egter ongelukkig mense groet, en een so ’n persoon is Awie Kriel van Kaap Agri. Hy was in die verlede ’n groot deel van GOSA Kaap se suksesse, en ons sal hom in die toekoms beslis mis. Ons wil Awie bedank vir alles wat hy vir ons gedoen het, en wens hom alles van die beste toe vir die toekoms.

In die Kaap staan ons aan die vooraand van strooptyd en ons sien daarna uit om die jaar op ’n hoë noot af te sluit. Aan al die ander betrokkenes: alles van die beste en mag julle almal geseënd wees.

George du Plessis
GOSA CAPE
Mobile: 082 924 8755
Email: georgedp@overbergagri.co.za