April 17, 2018

GOSA-lede het reuse-oes met gemak hanteer

Dit was baie aangenaam om al die pilare van die graanbedryf – en selfs internasionale gaste – by die 35ste simposium van die Graanhanteringsorganisasie van Suider-Afrika op 22 en 23 Maart vanjaar byeen te hê.

’n Spesiale woord van dank aan die borge wat tot ons organisasie bydra. Dankie aan ons gereelde borge, sowel as aan organisasies wat vir die eerste keer as borge opgetree het. Ons is dankbaar en bevoorreg om bydraes van u te ontvang.

Terwyl ons in 2016 die ergste droogte in meer as ’n honderd jaar in Suid-Afrika en in ons bnuurlande gehad het, is ons in die 2017-oesjaar geseën toe die Suid-Afrikaanse produsente een van die grootste mielieoeste in die geskiedenis geproduseer het – bykans 17 miljoen ton. ’n Totaal van 2,628 miljoen hektaar is aangeplant, met ’n gemiddelde rekordopbrengs van meer as 6 ton per hektaar. Die Vrystaat, Mpumalanga en Noordwes het meer as 80% van die totale oes geproduseer.

Ons bedank graag ons lede vir die manier waarop hulle die reuse-oes hanteer het. Silo’s se volle kapasiteit is benut, en ons weet dat silo-eienaars voorraad moet rondskuif om almal te akkommodeer. Saam met ander kommoditeite wat in 2017 geoes is, het ons lede meer as 20 miljoen ton graan hanteer.Diepsee-uitvoere was net meer as 2 miljoen ton. Witmielies is na Kenia uitgevoer en geelmielies na Japan, wat Suid-Afrikaanse mielies verkies omdat dit hard en GMO-vry is, asook na Korea en Taiwan.

Volgens die jongste oesskatting sal 12,2 miljoen ton mielies in hierdie komende seisoen geoes word. Met oorlaatvoorraad van ongeveer 3,5 miljoen ton mielies en verbruik van 10,5 miljoen ton per jaar, sal ons ’n hele paar miljoen ton mielies vir uitvoere hê. Benewens die gereelde uitvoere van mielies na ons buurlande van Botswana, Lesotho, Zimbabwe, Zambië, Swaziland, Mosambiek en Namibië, is Suid-Korea op die oomblik vir mielies in die mark. Indien ons pryse met dié van die VSA kan meeding, kan dit ’n potensiële mark wees. Gunstige weervooruitsigte en die ongestadigdheid van die rand sal fokusgebiede bly wat ’n impak op die mark sal hê.

Oesskattings vir ander kommoditeite is die volgende:

  • Sonneblomsaad: 732 000 metrieke ton, daling van 16%
  • Sojabone: 1,3 miljoen ton, styging van 4,5%
  • Grondbone: 89 000 metrieke ton, daling van 3,5%
  • Sorghum: 78 000 metrieke ton, daling van 48%

Die feit dat 48% minder sorghum aangeplant is, beteken dat sorghum ingevoer sal moet word om in die land se vraag te voorsien. In die produksiegebied van Limpopo, wat nie in die sorghumplantseisoen genoeg reën gekry het nie, het die produsente katoen geplant.

Deur die goeie en die slegte tye moet ons in landbou verseker dat die bevolking van Suid-Afrika se voedselsekerheid en voedselveiligheid veilig is. Oor die algemeen is ek baie trots op die wonderlike samewerking wat tussen die verskillende organisasies in landbou bestaan.

Ons is veral trots op ons Suid-Afrikaanse produsente wat onder die beste ter wêreld tel – hulle is absolute kundiges op die gebied van landbou.

Ons het tans ongeveer 33 000 primêre produsente wat nie – soos die geval in Amerika en die res van die wêreld is – enige subsidies van die regering ontvang nie. Ten minste 3 500 Suid-Afrikaanse produsente boer tans in 45 van die 55 lande in Afrika. Australië sal ook bitter graag ons produsente wil hê – soos hulle net verlede week aangedui het. Ons staan voor ’n uitdaging in die boerderybedryf, aangesien die gemiddelde produsent se ouderdom oor 60 is, en ons die jonger geslag nodig het om deel te neem om kos aan ons nasie te verskaf. Ons moet ook seker maak dat grondonteiening sonder vergoeding nie deurgevoer word nie, aangesien ons ons produsente nodig het om voedselsekerheid te verseker.

Wêreldwye produksie van mielies is goed, hoewel laer as verlede seisoen as gevolg van weersomstandighede in die Verenigde State van Amerika en Suid-Amerika. China is die tweede grootste produsent van mielies na die Verenigde State van Amerika. Wêreldwye binnelandse vraag was 6 miljoen ton hoër, en is verdeel tussen die VSA, Brasilië, die EU, China, Indië en Suid-Afrika. Wêreldwye oordragvoorrade is bykans 200 miljoen ton. Oordragvoorrade vir sojabone is 94 miljoen ton.

Ons koringproduksie is ongeveer 1,5 miljoen ton, terwyl ons vraag na koring rofweg 3,2 miljoen ton is. Gedurende hierdie seisoen is koring ingevoer uit lande soos die Verenigde State van Amerika, Duitsland, Argentinië, en veral die Swartsee-lande. Wêreldwye koringvoorraad staan op 269 miljoen ton, wat duidelik toon dat daar geen tekort aan koring in die wêreld is nie.

Daar is ’n Chinese gesegde wat lui: “Mag jy in interessante tye leef”. Wel, ons leef beslis daarin.

Neem maar net ons geliefde land, Suid-Afrika, en die woelinge waardeur ons die afgelope paar jaar is: Korrupsie, staatskaping, die verswakking van die rand, ’n kredietafgradering, droogtes, ’n president vir wie niemand respek gehad het nie, en nog soveel negatiewe ervarings wat ons geteister het. En toe, net toe ons dink dinge kan nie erger raak nie, vind sulke wonderlike veranderings plaas: ’n Nuwe president, nuwe kabinet, die rand wat versterk, en goeie reën in sekere gebiede verlede jaar – ons is vol hoop vir die toekoms.

Ongelukkig het ons die aaklige uitbreking van listeriose in ons land. Dit is ’n uitdaging vir die maatskappye wat betrokke is. Gelukkig het die vinnige optrede van die regering die uitbreking onder beheer gebring.

Ons gebede is steeds by die mense in die Wes-, Oos- en Noord-Kaap, en al die verskillende dele van ons land waar reën so desperaat nodig is.

Ongelukkig het Moody’s gewaarsku dat Kaapstad se waterkrisis in 2018 ’n direkte impak op die stad se begroting en ekonomie sal hê. Hulle het gesê dat die waterkrisis die stad se lenings skerp sal laat styg en die provinsiale ekonomie sal laat krimp. Die geraamde verlies aan inkomste vir die landbousektor in die Wes-Kaap as gevolg van die droogte is ongeveer
R6 miljard.

Ons in landbou is verplig om voedselveiligheid en voedselsekerheid te bevorder. Alhoewel daar soveel negatiewe invloede van buite is, moet ons steeds ons bes doen en positief saamwerk om sukses te behaal in hierdie land waarvoor ons so lief is.

Baie dankie aan al ons sterk leiers in landbou en almal wat so getrou ’n bydrae maak.

Annatjie Loio
PRESIDENT

Selfoon: 082 458 7264
E-pos:annatjie@unitrade826.co.za

Annatjie Loio
PRESIDENT
Mobile: 082 458 7264
Email: annatjie@unitrade826.co.za