January 12, 2018

Opwindende 2018 hou belofte in

2017 is agter die rug en sal altyd onthou word as die grootste graanoesjaar tot op hede in Suid-Afrika. Verskeie rekords is verbeter en die bedryf het uitstekend gevaar om die oes te ontvang. Addisionele kapasiteit is geskep en die silo’s is vol. Wat ’n uitmuntende prestasie deur alle belanghebbendes in die graanwaardeketting asook die produsente.

In dié tyd dink ons steeds aan die Wes-Kaap met die voortslepende droogte en watertekorte. In dieselfde asem verloor ons toe weer vir die eerste keer in 82 jaar ‘n hele dag se toetskrieket weens reën in Kaapstad – en dit nogal buite die tradisionele reënseisoen. Dit wys jou net, ‘n mens moet nooit hoop verloor nie. (Gelukkig het ons darem die kriekettoets ordentlik gewen!)

2018 beloof om ‘n opwindende jaar te wees. Eerstens moet die rekordoes wat ontvang is gestoor, uitgelaai, vervoer en verwerk word. Landboutoestande lyk relatief goed en bogemiddelde reën word voorspel vir laat Januarie en Februarie deur van die weerghoeroes. Wat gaan met oordragvoorraad gebeur? Wat gaan graanpryse doen…en uitvoere? Dit is van die vrae op almal se lippe.

GOSA betree ook 2018 met opwinding. Ons bedryfsvergaderings het vroeg in Januarie afgeskop en ons is baie opgewonde om vir Johan van Rensburg van OVK te verwelkom as voorsitter van GOSA se bedryfskomitee. GOSA hou dan ook in Februarie ’n sessie waar belanghebbendes in die graanwaardeketting genooi is om saam die rigting te bepaal wat GOSA vir die volgende vyf jaar sal inslaan. Ons as raadslede is baie opgewonde oor die sessie en om almal se insette te verkry om GOSA nog meer doeltreffend te maak.

Natuurlik vind ons 35ste simposium ook in Maartmaand plaas by Mosselbaai. Registrasies vorder fluks en ons sien uit om almal weer daar te verwelkom. GOSA kon weer eens daarin slaag om sprekers van hoogstaande gehalte te reël vir die geleentheid.

Namens GOSA, voorspoed vir 2018. Mag die jaar julle grootste verwagtinge oortref.

Marco Pretorius
Raadslid en Tesourier: GOSA

Marco Pretorius
TREASURER
Mobile: 082 924 6222
Email: marco.pretorius@afgri.co.za